Bible Study: FrontPage




 

Genesis, Chapter 35

Bible Study - Genesis 35 - Afrikaans - Afrikaans Bible (1983) - Web
 
 
 
Comment!       Comment Disqus!
  
1. God het vir Jakob gesê: "Maak jou klaar en gaan na Bet-El toe en bly daar. Bou vir My daar 'n altaar. Ek is die God wat daar aan jou verskyn het toe jy vir jou broer Esau gevlug het."
  
2. Toe sê Jakob vir sy hele huis en vir almal by hom: "Haal uit al die afgodsbeelde wat by julle is. Reinig julle en trek ander klere aan.
  
3. Ons moet klaarmaak en Bet-El toe gaan. Daar moet ek 'n altaar gaan bou vir die God wat my gebed verhoor het toe ek in die moeilikheid was en wat by my was waar ek ook al gegaan het."
  
4. Hulle het toe al die afgodsbeelde in hulle besit vir Jakob gegee en ook hulle oorringe. Hy het dit onder die groot boom by Sigem begrawe.
  
5. Toe Jakob-hulle wegtrek, het God die mense van die stede in daardie omgewing so bang gemaak vir Jakob en sy seuns dat hulle nie agtervolg is nie.
  
6. Jakob en al die mense by hom het by Lus aangekom. Dit is die Lus wat in Kanaän geleë is, nou bekend as Bet-El.
  
7. Hy het daar 'n altaar gebou en die plek El-Bet-El genoem, want God het daar aan hom verskyn toe hy vir sy broer gevlug het.
  
8. Debora, die vrou aan wie Rebekka as kind gedrink het, het daar gesterf en hulle het haar begrawe onder die groot boom naby Bet-El, en hulle het dit Huilboom genoem.
  
9. Nadat Jakob uit Paddan-Aram terug was, het God weer aan hom verskyn en hom geseën.
  
10. God het vir hom gesê: "Jy is Jakob, maar jy sal nie langer Jakob genoem word nie. Jou naam sal Israel wees." God het hom toe Israel genoem.
  
11. God het verder vir hom gesê: "Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word 'n groot nasie. Baie nasies sal van jou afstam. Jy sal die voorvader wees van konings.
  
12. Hierdie land wat Ek aan Abraham en aan Isak gegee het, sal Ek aan jou gee en ná jou gee Ek dit aan jou nageslag."
  
13. Toe het God van Jakob af weggegaan, en op die plek waar God met hom gepraat het,
  
14. het Jakob 'n klip regop gesit, presies op die plek waar die Here met hom gepraat het. Hy het 'n drankoffer daarop uitgegiet en ook olie.
  
15. Hy het die plek waar God met hom gepraat het, Bet-El genoem.
  
16. Jakob-hulle het van Bet-El af getrek na Efrata toe. Hulle was nog 'n ent daarvandaan toe bring Ragel 'n kind in die wêreld. Dit was 'n moeilike geboorte.
  
17. Met dié dat Ragel so swaar ly by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: "Moenie bekommerd wees nie. Ook hierdie keer het jy 'n seun!"
  
18. Maar Ragel was aan die sterf en terwyl sy haar laaste asem uitblaas, noem sy die seuntjie Ben-Oni. Sy pa het hom egter Benjamin genoem.
  
19. Ragel het gesterf, en sy is begrawe langs die pad na Efrata toe, dit is Betlehem.
  
20. Jakob het 'n groot klip op haar graf gesit. Dit is die klip wat nou nog op haar graf is.
  
21. Israel het verder weggetrek en kamp opgeslaan anderkant Migdal-Eder.
  
22. Terwyl Israel in daardie landstreek gebly het, het Ruben gemeenskap gehad met Bilha, sy pa se slavinvrou. Israel het dit te hore gekom. Jakob het twaalf seuns gehad.
  
23. Die seuns van Lea was Ruben, die oudste, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon.
  
24. Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin.
  
25. Die seuns van Ragel se persoonlike slavin Bilha was: Dan en Naftali.
  
26. Die seuns van Lea se persoonlike slavin Silpa was: Gad en Aser. Dit is Jakob se seuns wat in Paddan-Aram gebore is.
  
27. Jakob is na sy pa Isak toe in Mamre by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Isak gebly het, en vroeër ook Abraham.
  
28. Isak het honderd en tagtig jaar oud geword
  
29. en toe is hy dood. Hy het gesterf nadat hy oud geword en 'n vol lewe gehad het. Sy twee seuns Esau en Jakob het hom begrawe.


Search in:
Terms:

Vote and Comment on Facebook:Recommend This Page:
Post on Facebook Add to your del.icio.us Digg this story StumbleUpon Twitter Google Plus Post on Tumblr Add to Reddit Pin this story Linkedin Google Bookmark Blogger
Insert Your Personal Insight:

Please do not make mean comments and follow the biblical and spiritual character of this forum. If, however unpleasant situations arise, we request to flag it to us in order to evaluate the situation.

Text source: This text is in the public domain.

This project is based on delivering free-of-charge the Word of the Lord in all the world by using electronic means. If you want to contact us, you can do this by writing to the following e-mail: bible-study.xyz@hotmail.com


SELECT VERSION

COMPARE WITH OTHER BIBLES