Bible Study: FrontPage




 

Genesis, Chapter 39

Bible Study - Genesis 39 - Afrikaans - Afrikaans Bible (1983) - Web
 
 
 
Comment!       Comment Disqus!
  
1. Josef is na Egipte toe gebring. Potifar, 'n amptenaar van die farao en hoof van die lyfwag, 'n Egiptenaar van geboorte, het vir Josef by die Ismaeliete gekoop wat hom Egipte toe gevat het.
  
2. Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Hy het in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar, gebly.
  
3. Toe Potifar, Josef se eienaar, sien dat die Here by Josef is en dat die Here alles wat Josef aanpak, laat slaag,
  
4. was Potifar hom goedgesind. Hy het Potifar se persoonlike slaaf geword en Potifar het hom aangestel oor sy hele huishouding, en al sy besittings is onder Josef se sorg geplaas.
  
5. Van toe af het die Here die huis van die Egiptenaar geseën. Dit was oor Josef dat die Here dit gedoen het. Die seën van die Here het gerus op al Potifar se besittings, dié in sy huis en dié in die veld.
  
6. Hy het alles aan Josef oorgelaat en hom aan niks gesteur nie, behalwe aan sy kos. Josef was fris gebou en mooi.
  
7. Na sy bevordering in sy eienaar se huis het dié se vrou na Josef gekyk en vir hom gesê: "Kom slaap by my."
  
8. Maar hy wou nie en hy het vir sy eienaar se vrou gesê: "Meneer steur hom aan niks vandat ek hier is nie. Wat hy besit, het hy onder my sorg geplaas.
  
9. Daar is niemand wat in hierdie huis meer gesag het as ek nie. Meneer het niks van my teruggehou nie, behalwe vir u, want u is sy vrou. Hoe kan ek so 'n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!"
  
10. Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap.
  
11. Op 'n dag toe Josef in die huis ingaan om sy werk te doen, was daar niemand van die ander slawe in die huis nie.
  
12. Toe gryp Potifar se vrou hom aan sy klere en sê: "Kom lê by my." Maar Josef het buitentoe gevlug, terwyl sy 'n stuk van sy klere in haar hand bly hou.
  
13. Toe sy sien dat hy buitentoe gevlug het terwyl sy 'n stuk van sy klere in haar hand bly hou,
  
14. roep sy die ander slawe van haar huis en sê vir hulle: "Kyk, Meneer het hierdie Hebreër na ons toe gebring om ons te kom verneder. Hy wou by my kom slaap, maar toe ek hard begin skree
  
15. en hy hoor hoe hard ek aanhou roep, het hy buitentoe gevlug en hierdie stuk klere by my gelos."
  
16. Sy het die stuk klere by haar gehou tot Josef se eienaar huis toe gekom het.
  
17. Sy het alles vir hom vertel en vir hom gesê: "Die Hebreeuse slaaf wat jy hier by ons ingebring het, het by my kom aanlê,
  
18. maar toe ek hard aanhou roep, het hy buitentoe gevlug en hierdie stuk klere by my gelos."
  
19. Toe Josef se eienaar by sy vrou hoor wat sy slaaf alles aan haar gedoen het, was hy kwaad,
  
20. en het hy vir Josef gevat en in die tronk gegooi waarin die mense was wat deur die koning gevange gehou is. Terwyl Josef daar in die tronk was,
  
21. was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind, sodat die tronkbewaarder hom goedgesind geword het.
  
22. Hy het vir Josef in beheer geplaas van al die gevangenes in die tronk en van wat hulle moes doen. Josef was vir alles verantwoordelik,
  
23. en die tronkbewaarder het nie meer na iets omgesien nie; alles was in Josef se hande, want die Here was by hom. Wat Josef ook al aangepak het, die Here het dit laat slaag.


Search in:
Terms:

Vote and Comment on Facebook:Recommend This Page:
Post on Facebook Add to your del.icio.us Digg this story StumbleUpon Twitter Google Plus Post on Tumblr Add to Reddit Pin this story Linkedin Google Bookmark Blogger
Insert Your Personal Insight:

Please do not make mean comments and follow the biblical and spiritual character of this forum. If, however unpleasant situations arise, we request to flag it to us in order to evaluate the situation.

Text source: This text is in the public domain.

This project is based on delivering free-of-charge the Word of the Lord in all the world by using electronic means. If you want to contact us, you can do this by writing to the following e-mail: bible-study.xyz@hotmail.com


SELECT VERSION

COMPARE WITH OTHER BIBLES