Bible Study: FrontPage




 

Genesis, Chapter 4

Bible Study - Genesis 4 - Afrikaans - Afrikaans Bible (1983) - Web
 
 
 
Comment!       Comment Disqus!
  
1. Die mens het met sy vrou Eva gemeenskap gehad, en sy het swanger geword. Sy het vir Kain in die wêreld gebring en uitgeroep: "Ek het 'n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here!"
  
2. Sy het weer 'n kind gekry, Abel, 'n broer vir Kain. Abel was 'n veeboer en Kain 'n saaiboer.
  
3. Na verloop van tyd het Kain van die opbrengs van die land 'n offer aan die Here gebring.
  
4. Abel het dit ook gedoen, van die eerstelinge uit sy kudde, van hulle vet. Die Here het vir Abel en sy offer aangeneem,
  
5. maar nie vir Kain en sy offer nie. Kain het baie kwaad geword en hy was bedruk.
  
6. Toe sê die Here vir Kain: "Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk?
  
7. Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie - die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers."
  
8. Kain het met sy broer Abel gepraat, en toe hulle in die veld was, het Kain vir Abel oorweldig en hom doodgemaak.
  
9. Toe vra die Here vir Kain: "Waar is jou broer Abel?" en Kain antwoord: "Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?"
  
10. Maar die Here sê: "Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My.
  
11. Vervloek is jy dan nou, verban van die grond af wat gretig die bloed van jou broer uit jou hand opgeslurp het.
  
12. Wanneer jy die grond bewerk, sal dit nie sy opbrengs vir jou gee nie. Jy sal 'n doellose swerwer op aarde word!"
  
13. Toe sê Kain vir die Here: "My straf is te swaar om te dra.
  
14. U verdryf my nou van my grond af, en tot U het ek nie meer toegang nie. Ek sal 'n doellose swerwer op aarde wees, en wie my raakloop, sal my vermoor."
  
15. Maar die Here sê vir hom: "Nee! Wie vir Kain vermoor, sal sewe maal gestraf word." Toe gee die Here vir Kain 'n teken sodat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nie.
  
16. En Kain het van die Here af weggegaan. Hy het gaan woon in Nod, oos van Eden.
  
17. Kain het met sy vrou gemeenskap gehad, en sy het swanger geword en vir Henog in die wêreld gebring. Kain het daarna 'n stad begin bou en hy het die stad na sy seun Henog vernoem.
  
18. Vir Henog is 'n seun Irad gebore, en Irad was die vader van Megujael, en dié was die vader van Metusael, en dié was die vader van Lameg.
  
19. Lameg was met twee vrouens getroud. Die een was Ada en die ander Silla.
  
20. Ada het vir Jabal in die wêreld gebring. Hy was die stamvader van dié wat in tente by hulle kuddes woon.
  
21. Die naam van sy broer was Jubal en hy was die stamvader van dié wat op die lier en die fluit speel.
  
22. Silla weer het vir Tubal-Kain in die wêreld gebring, en hy was 'n smid, 'n vakman in koper en yster. Sy suster was Naäma.
  
23. Lameg het vir sy vrouens gesê: "Ada en Silla, luister na my! Vrouens van Lameg, let op my woorde! Ek maak 'n man dood as hy my wond, 'n seun as hy my seermaak.
  
24. Kain sal sewe maal gewreek word, Lameg sewe en sewentig maal!"
  
25. Adam het weer met sy vrou gemeenskap gehad, en sy het 'n seun in die wêreld gebring en hom Set genoem, "want," het sy gesê, "God het vir my 'n ander kind gegee in die plek van Abel omdat Kain hom vermoor het."
  
26. Ook vir Set is daar 'n seun gebore, en Set het hom Enos genoem. In daardie tyd het die mense begin om die Naam van die Here aan te roep.


Search in:
Terms:

Vote and Comment on Facebook:Recommend This Page:
Post on Facebook Add to your del.icio.us Digg this story StumbleUpon Twitter Google Plus Post on Tumblr Add to Reddit Pin this story Linkedin Google Bookmark Blogger
Insert Your Personal Insight:

Please do not make mean comments and follow the biblical and spiritual character of this forum. If, however unpleasant situations arise, we request to flag it to us in order to evaluate the situation.

Text source: This text is in the public domain.

This project is based on delivering free-of-charge the Word of the Lord in all the world by using electronic means. If you want to contact us, you can do this by writing to the following e-mail: bible-study.xyz@hotmail.com


SELECT VERSION

COMPARE WITH OTHER BIBLES