Bible Study: FrontPage




 

Mark, Chapter 3

Bible Study - Mark 3 - Afrikaans - Afrikaans Bible (1983) - Web
 
 
 
Comment!       Comment Disqus!
  
1. Jesus het weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was 'n man met 'n gebreklike hand.
  
2. Die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy hom op die sabbatdag sou gesond maak, sodat hulle vir Jesus daaroor kon aankla.
  
3. Hy sê toe vir die man met die gebreklike hand: "Staan op hier tussen hulle!"
  
4. Daarna vra Hy vir hulle: "Mag 'n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?" Hulle het egter niks gesê nie.
  
5. Hy het hulle rondom Hom kwaad aangekyk en was diep bedroef oor hulle verhardheid. Hy sê toe vir die man: "Steek jou hand uit!" Hy het sy hand uitgesteek en dit was gesond.
  
6. Die Fariseërs het uitgegaan en dadelik met die Herodiane 'n komplot teen Jesus gesmee om Hom om die lewe te bring.
  
7. Jesus het toe met sy dissipels teruggegaan na die see toe. 'n Menigte mense het van Galilea af agter Hom aan gegaan. Ook van Judea af,
  
8. en uit Jerusalem en van Idumea en van oorkant die Jordaan en van rondom Tirus en Sidon af, het daar baie mense na Hom toe gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen.
  
9. Weens die gedrang het Hy vir sy dissipels gesê om vir Hom 'n skuitjie reg te hou sodat die mense Hom nie vertrap nie.
  
10. Hy het baie mense gesond gemaak, sodat almal wat die een of ander siekte gehad het, Hom oorval het om aan Hom te raak.
  
11. As mense wat van onrein geeste besete was, Hom sien, het hulle voor Hom neergeslaan en geskreeu: "U is die Seun van God!"
  
12. Maar Hy het hulle baie uitdruklik belet om bekend te maak wie Hy is.
  
13. Jesus het teen die berg opgegaan en dié wat Hy wou hê, nader geroep, en hulle het na Hom toe gekom.
  
14. Hy het toe twaalf, wat Hy apostels genoem het, aangestel om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek.
  
15. Hulle het ook die mag ontvang om bose geeste uit te drywe.
  
16. Hy het hierdie twaalf aangestel: Petrus, soos Hy Simon genoem het,
  
17. Jakobus seun van Sebedeus, en Johannes die broer van Jakobus - vir hulle het Hy die bynaam Boanerges gegee, dit wil sê "manne van die donder" -
  
18. Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die Kananeër,
  
19. en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het.
  
20. Daarna het Jesus huis toe gegaan. 'n Menigte mense het weer saamgedrom, sodat daar selfs nie geleentheid was om 'n stukkie te eet nie.
  
21. Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: "Hy het van sy kop af geraak."
  
22. Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: "Hy is van Beëlsebul besete!" en "Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe."
  
23. Jesus het hulle nader geroep en hulle met voorbeelde geantwoord: "Hoe kan die Satan die Satan uitdrywe?
  
24. As 'n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie;
  
25. en as 'n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie.
  
26. As die Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar is dit sy einde.
  
27. "Bowendien kan niemand in 'n sterk man se huis ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof.
  
28. "Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat.
  
29. Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde."
  
30. Dit het Hy gesê omdat hulle gesê het: "Hy is van 'n onrein gees besete."
  
31. Sy moeder en sy broers het toe gekom. Hulle het buite bly staan en 'n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep.
  
32. 'n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: "Kyk, u moeder en u broers en u susters daar buite soek U."
  
33. Maar Hy sê vir hulle: "Wie is my moeder en my broers?"
  
34. Hy het die mense aangekyk wat in 'n kring om Hom sit en gesê: "Hier is my moeder en my broers!
  
35. Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder."


Search in:
Terms:

Vote and Comment on Facebook:Recommend This Page:
Post on Facebook Add to your del.icio.us Digg this story StumbleUpon Twitter Google Plus Post on Tumblr Add to Reddit Pin this story Linkedin Google Bookmark Blogger
Insert Your Personal Insight:

Please do not make mean comments and follow the biblical and spiritual character of this forum. If, however unpleasant situations arise, we request to flag it to us in order to evaluate the situation.

Text source: This text is in the public domain.

This project is based on delivering free-of-charge the Word of the Lord in all the world by using electronic means. If you want to contact us, you can do this by writing to the following e-mail: bible-study.xyz@hotmail.com


SELECT VERSION

COMPARE WITH OTHER BIBLES