1. Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.
2. Here, dit is oor die openbaring van u mag dat die koning so bly is, dit is oor die oorwinning wat U hom gegee het, dat hy so jubel en juig.
3. Die wens van sy hart het U vervul. Wat hy gevra het, het U hom nie geweier nie. Sela
4. U skenk hom voorspoed en geluk, U plaas 'n goue kroon op sy kop.
5. Lewe het hy van U gevra; U het hom dit gegee - 'n lang, lang lewe.
6. Omdat U uitkoms gegee het, is hy hoog in aansien, met roem en eer het U hom oorlaai.
7. U maak hom altyd voorspoedig, U skenk hom oorvloedige blydskap deur u nabyheid.
8. Die koning vertrou op die Here en deur die trou van die Allerhoogste struikel hy nie.
9. U hand sal al u vyande vind, u regterhand sal u haters tref.
10. Wanneer U verskyn, Here, sal U hulle verteer soos in 'n oond. In u toorn sal U hulle vernietig, en die vuur sal hulle verteer.
11. U sal hulle kinders van die aarde af verdelg en die mensheid verlos van hulle nageslag.
12. As hulle kwaad teen U beraam, bose planne uitdink, sal hulle niks uitrig nie.
13. Wanneer U met die boog na hulle mik, slaan hulle op die vlug.
14. Laat u mag seƫvier, Here, dan sal ons u krag besing en daaroor roem.
|