|
|
2 Corinthians, Chapter 6
1. En as medewerkers vermaan ons julle ook dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie.
2. Want Hy sê: In die tyd van die welbehae het Ek jou verhoor, en in die dag van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.
3. Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie;
4. maar in alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede;
5. in slae, in gevangenskappe, in oproere, in arbeid, in slapelose nagte, in hongerly;
6. in reinheid, in kennis, in lankmoedigheid, in vriendelikheid, in die Heilige Gees, in ongeveinsde liefde;
7. in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter-- en linkerhand;
8. deur eer en oneer, deur slegte en goeie gerug, as verleiers en tog waaragtig;
9. as onbekendes en tog goed bekend, as sterwendes en kyk, ons lewe, as getugtig en tog nie gedood nie;
10. as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit.
11. Ons mond het teenoor julle oopgegaan, Korinthiërs, ons hart het verruim geword.
12. Nie in ons het julle dit te nou nie, maar in jul binneste het julle dit te nou.
13. Maar by wyse van vergoeding -- ek praat soos met kinders -- moet julle ook verruim word.
14. Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
15. En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?
16. Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.
17. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem;
18. en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.
|
|
Text source: AFR - Bible Afrikaans 1953. Copyright (c) 1953, Bible Society of South Africa. Hierdie Bybel is goedgunstiglik deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika beskikbaar gestel. Om n bydrae vir die verspreiding van bekostigbare Bybels in Suid-Afrika te maak, Klik: http://www.biblesociety.co.za/bydraes.htm. This copyright Bible has kindly been made available by the Bible Society of South Africa. To contribute towards the distribution of affordable Bibles in South Africa, click: http://www.biblesociety.co.za/contributions.htm.
|
| |
| This project is based on delivering free-of-charge the Word of the Lord in all the world by using electronic means. If you want to contact us, you can do this by writing to the following e-mail: bible-study.xyz@hotmail.com |
|
|
|
SELECT VERSION
COMPARE WITH OTHER BIBLES
|
|