Bible Study: FrontPage




 

Leviticus, Chapter 19

Bible Study - Leviticus 19 - Afrikaans - Afrikaans Bible (1953) - Web
 
 
 
Comment!       Comment Disqus!
  
1. Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
  
2. Spreek met die hele vergadering van die kinders van Israel en sê vir hulle: Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.
  
3. Elkeen moet sy moeder en sy vader vrees, en my sabbatte hou. Ek is die HERE julle God.
  
4. Begeef julle nie tot die afgode en maak vir julle geen gegote gode nie. Ek is die HERE julle God.
  
5. En as julle 'n dankoffer aan die HERE slag, moet julle dit so offer, dat julle welgevalle kan vind.
  
6. Op die dag as julle dit offer en die dag daarna, moet dit geëet word; maar wat tot die derde dag toe oorbly, moet met vuur verbrand word.
  
7. En as dit tog op die derde dag geëet word, sal dit 'n onrein ding wees; dit sal nie met welgevalle aangeneem word nie.
  
8. En hy wat dit eet, moet sy ongeregtigheid dra, want wat heilig is aan die HERE, het hy ontheilig. Daarom moet dié siel uit sy volksgenote uitgeroei word.
  
9. En as julle die opbrings van julle land oes, moet jy die kant van jou land nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie.
  
10. Jou wingerd moet jy ook nie skoon afoes nie, en die trossies wat van jou wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle God.
  
11. Julle mag nie steel nie, en julle mag nie lieg nie, en julle mag die een die ander nie bedrieg nie.
  
12. En julle mag nie vals sweer by my Naam en so die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die HERE.
  
13. Jy mag jou naaste nie verdruk of beroof nie. Die dagloner se loon mag by jou nie tot die môre toe bly nie.
  
14. Jy mag 'n dowe nie vloek nie, en voor die blinde geen struikelblok lê nie; maar jy moet jou God vrees. Ek is die HERE.
  
15. Julle mag geen onreg doen in die gereg nie. Jy mag vir die geringe nie partydig wees nie en die aansienlike nie voortrek nie. Met geregtigheid moet jy oor jou naaste oordeel.
  
16. Jy mag nie as 'n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie. Jy mag nie teen die lewe van jou naaste optree nie. Ek is die HERE.
  
17. Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie.
  
18. Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.
  
19. Julle moet my insettinge hou. Twee soorte van jou vee mag jy nie laat paar nie. Jou akker moet jy nie met twee soorte saad besaai nie. En 'n kleed van twee soorte goed, van gemengde stof, mag nie op jou kom nie.
  
20. En as 'n man vleeslike gemeenskap het met 'n vrou wat 'n slavin is, vir 'n ander man bestemd, sonder dat sy ooit losgekoop of vryheid aan haar gegee is, dan moet daar bestraffing plaasvind. Hulle mag nie gedood word nie, want sy was nie vrygelaat nie.
  
21. En hy moet sy skuldoffer aan die HERE bring by die ingang van die tent van samekoms 'n ram as skuldoffer;
  
22. en die priester moet met die skuldofferram vir hom versoening doen voor die aangesig van die HERE weens die sonde wat hy gedoen het; en hy sal vergifnis ontvang vir sy sonde wat hy gedoen het.
  
23. En as julle in die land inkom en allerhande vrugtebome plant, moet julle hulle vrugte as verbode beskou; drie jaar lank moet hulle vir julle verbode wees; daar mag nie van geëet word nie.
  
24. Maar in die vierde jaar moet al hulle vrugte 'n heilige feesgawe aan die HERE wees;
  
25. en in die vyfde jaar mag julle hulle vrugte eet dit alles om hulle opbrings vir julle meer te maak. Ek is die HERE julle God.
  
26. Julle mag niks met bloed en al eet nie. Julle mag nie met verklaring van voortekens of goëlery omgaan nie.
  
27. Julle mag die rand van julle hoofhare nie rond wegskeer nie. Ook mag jy die rand van jou baard nie skend nie.
  
28. Julle mag ook ter wille van 'n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE.
  
29. Ontheilig jou dogter nie deur haar vir hoerery aan te hou nie, sodat die land nie hoereer en die land vol skandelike dade word nie.
  
30. Julle moet my sabbatte hou en my heiligdom ontsien. Ek is die HERE.
  
31. Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die HERE julle God.
  
32. Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van 'n grysaard eer; en jy moet jou God vrees. Ek is die HERE.
  
33. En as 'n vreemdeling by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie verdruk nie.
  
34. Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland. Ek is die HERE julle God.
  
35. Julle mag geen onreg doen in die gereg, in lengtemaat, gewig of inhoudsmaat nie.
  
36. Julle moet 'n regte weegskaal hê, regte weegstene, 'n regte efa en 'n regte hin. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het.
  
37. Daarom moet julle al my insettinge en al my verordeninge onderhou en dit doen. Ek is die HERE.


Search in:
Terms:

Vote and Comment on Facebook:Recommend This Page:
Post on Facebook Add to your del.icio.us Digg this story StumbleUpon Twitter Google Plus Post on Tumblr Add to Reddit Pin this story Linkedin Google Bookmark Blogger
Insert Your Personal Insight:

Please do not make mean comments and follow the biblical and spiritual character of this forum. If, however unpleasant situations arise, we request to flag it to us in order to evaluate the situation.

Text source: AFR - Bible Afrikaans 1953. Copyright (c) 1953, Bible Society of South Africa. Hierdie Bybel is goedgunstiglik deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika beskikbaar gestel. Om n bydrae vir die verspreiding van bekostigbare Bybels in Suid-Afrika te maak, Klik: http://www.biblesociety.co.za/bydraes.htm. This copyright Bible has kindly been made available by the Bible Society of South Africa. To contribute towards the distribution of affordable Bibles in South Africa, click: http://www.biblesociety.co.za/contributions.htm.

This project is based on delivering free-of-charge the Word of the Lord in all the world by using electronic means. If you want to contact us, you can do this by writing to the following e-mail: bible-study.xyz@hotmail.com


SELECT VERSION

COMPARE WITH OTHER BIBLES