1. Vir die musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. 'n Lied. (68:2) God staan op, sy vyande raak verstrooid, en sy haters vlug voor sy aangesig weg!
2. (68:3) Soos rook verdryf word, verdryf U hulle; soos was smelt voor die vuur, vergaan die goddelose voor die aangesig van God.
3. (68:4) Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap.
4. (68:5) Sing tot eer van God, psalmsing tot eer van sy Naam, vul die pad op vir Hom wat deur die woestynvlaktes ry: HERE is sy Naam; en jubel voor sy aangesig!
5. (68:6) 'n Vader van die wese en 'n regter van die weduwees is God in sy heilige woning.
6. (68:7) God laat die eensames woon in 'n huisgesin, Hy lei die gevangenes uit in voorspoed; maar die wederstrewiges woon in 'n dor land.
7. (68:8) o God, toe U uitgetrek het voor u volk, toe U voortgestap het in die wildernis, Sela,
8. (68:9) het die aarde gebewe! Ook het die hemele gedrup voor die aangesig van God; hierdie Sinai voor die aangesig van God, die God van Israel!
9. (68:10) Met 'n milde reën het U, o God, u erfdeel besproei; en toe dit moeg was, het U dit versterk.
10. (68:11) U skare het daarin gewoon; U het dit in u goedheid berei vir die ellendige, o God!
11. (68:12) Die Here het die woord laat hoor -- die vroue wat die goeie tyding gebring het, was 'n groot skare:
12. (68:13) Die konings van die leërskare vlug, hulle vlug; en sy wat tuis gebly het, verdeel die buit.
13. (68:14) As julle daar lê tussen die veekrale, is die vlerke van die duif oordek met silwer en sy vleuels met liggroen goud.
14. (68:15) Toe die Almagtige konings daarin verstrooi het, het dit gesneeu op Salmon.
15. (68:16) 'n Berg van God is die berg Basan, 'n berg met toppe is die berg Basan.
16. (68:17) Waarom kyk julle afgunstig, o berge met toppe, na die berg wat God begeer het vir sy woning? Ja, die HERE sal daar woon tot in ewigheid.
17. (68:18) Die waens van God is tien duisende, duisend maal duisende; die Here is onder hulle; dit is Sinai in heiligheid.
18. (68:19) U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder die mense; ja, ook wederstrewiges om daar te woon, o HERE God!
19. (68:20) Geloofd sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons; God is ons heil! Sela.
20. (68:21) God is vir ons 'n God van verlossinge, en die HERE Here het uitkomste teen die dood.
21. (68:22) Gewis, God sal die kop van sy vyande verbrysel, die harige skedel van hom wat in sy sondeskuld rondwandel.
22. (68:23) Die Here het gesê: Ek sal terugbring uit Basan, Ek sal terugbring uit die dieptes van die see;
23. (68:24) sodat jy jou voet kan steek in bloed, die tong van jou honde van die vyande sy deel kan hê.
24. (68:25) o God, hulle sien u optogte, die optogte van my God, my Koning in die heiligdom.
25. (68:26) Vooraan gaan die sangers, daaragter die snaarspelers, tussen jongmeisies in wat die tamboeryn slaan.
26. (68:27) Loof God, die Here, in die vergaderinge, julle wat is uit die fontein van Israel!
27. (68:28) Daar is Benjamin, die kleinste, wat oor hulle geheers het; die vorste van Juda -- hulle menigte; die vorste van Sébulon, die vorste van Náftali.
28. (68:29) Jou God het jou sterkte gebied: betoon U sterk, o God, wat vir ons gewerk het!
29. (68:30) Ter wille van u tempel in Jerusalem sal die konings aan U geskenke bring.
30. (68:31) Dreig die wilde gedierte van die riet -- die trop stiere saam met die kalwers van die volke -- die wat hulleself onderwerp met stukke silwer. Hy het die volke verstrooi wat lus het in oorloë.
31. (68:32) Edeles sal uit Egipte kom, Kus sal haastig sy hande uitsteek na God.
32. (68:33) o Koninkryke van die aarde, sing tot eer van God; psalmsing tot eer van die Here! Sela.
33. (68:34) Van Hom wat ry in die hoogste hemele, wat uit die voortyd is; kyk, Hy verhef sy stem, 'n magtige stem.
34. (68:35) Gee sterkte aan God! Sy hoogheid is oor Israel en sy sterkte in die wolke.
35. (68:36) Vreeslik is God uit jou heiligdomme, o Israel! Die God van Israel -- Hy gee aan die volk sterkte en kragte. Geloofd sy God!
|