1. 'n Psalm van Dawid, by die gedenkoffer. (38:2) o HERE, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie.
2. (38:3) Want u pyle het in my ingedring, en u hand het op my neergedaal.
3. (38:4) Daar is geen heel plek in my vlees vanweë u grimmigheid nie; daar is niks gesond in my gebeente vanweë my sonde nie.
4. (38:5) Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos 'n swaar pak het hulle vir my te swaar geword.
5. (38:6) My wonde stink, hulle dra vanweë my dwaasheid.
6. (38:7) Ek is krom, heeltemal geboë; die hele dag gaan ek in die rou;
7. (38:8) want my lendene is vol ontsteking, en daar is geen heel plek in my vlees nie.
8. (38:9) Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel; ek brul van die gebons van my hart.
9. (38:10) Here, voor U is al my begeertes, en my gesug is vir U nie verborge nie.
10. (38:11) My hart slaan vinnig, my krag het my verlaat; en die lig van my oë, ook dit is nie by my nie.
11. (38:12) Die wat my liefhet en my vriende is, staan opsy vir my kwaal, en my nabestaandes het ver gaan staan;
12. (38:13) en die wat my lewe soek, span strikke; en die wat my ongeluk soek, spreek van ondergang, en hulle bedink die hele dag bedrog.
13. (38:14) Maar ek is soos 'n dowe: ek hoor nie, en soos 'n stomme wat sy mond nie oopmaak nie.
14. (38:15) Ja, ek is soos 'n man wat nie hoor nie en in wie se mond geen teëspraak is nie;
15. (38:16) want op U, HERE, wag ek; U sal verhoor, Here my God!
16. (38:17) Want ek het gesê: Laat hulle net nie bly wees oor my nie! Hulle wat by die wankeling van my voet hul groot maak teen my!
17. (38:18) Want ek is klaar om te val, en my smart is altyddeur voor my.
18. (38:19) Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde.
19. (38:20) Maar my vyande lewe, hulle is magtig; en die wat my valslik haat, is groot in aantal.
20. (38:21) En die wat kwaad vir goed vergeld, behandel my vyandig, omdat ek die goeie najaag.
21. (38:22) Verlaat my nie, o HERE! My God, wees nie ver van my af nie!
22. (38:23) Maak tog gou om my te help, Here, my heil!
|