|
|
Psalms, Chapter 59
1. Vir die musiekleier; op die wysie van: "Moenie verwoes nie." Van Dawid. 'n Gedig, toe Saul gestuur het en hulle die huis laat bewaak het om hom dood te maak. (59:2) Red my van my vyande, o my God! Beskerm my teen my teëstanders!
2. (59:3) Red my van die werkers van ongeregtigheid, en verlos my van die manne van bloed!
3. (59:4) Want kyk, hulle lê en loer op my lewe; sterkes val my aan, sonder oortreding en sonder sonde van my kant, o HERE!
4. (59:5) Buiten my skuld hardloop hulle en maak hulle klaar. Ontwaak, my tegemoet, en kyk!
5. (59:6) Ja U, HERE, God van die leërskare, God van Israel, word wakker om oor al die heidene besoeking te doen; wees al die ongeregtige trouelose nie genadig nie! Sela.
6. (59:7) Elke aand kom hulle terug; hulle huil soos honde en dwaal deur die stad.
7. (59:8) Kyk, hulle smaal met hul mond; swaarde is op hulle lippe, want -- wie sou dit hoor?
8. (59:9) Maar U, o HERE, lag oor hulle; U spot met al die heidene.
9. (59:10) My Sterkte, op U wil ek wag, want God is my rotsvesting.
10. (59:11) My genadige God sal my tegemoetkom; God sal my op my vyande laat neersien.
11. (59:12) Moet hulle nie ombring nie, sodat my volk dit nie vergeet nie: laat hulle rondswerwe deur u krag, en werp hulle neer, o Here, ons Skild!
12. (59:13) Sonde van hulle mond is die woord van hulle lippe; laat hulle dan gevang word in hul trots, en vanweë die vloek en die leuen wat hulle vertel.
13. (59:14) Vernietig hulle in grimmigheid, vernietig hulle, sodat hulle daar nie meer is nie; en laat hulle weet dat God heers in Jakob, tot by die eindes van die aarde! Sela.
14. (59:15) En elke aand kom hulle terug; hulle huil soos honde en dwaal deur die stad.
15. (59:16) Húlle swerwe rond om voedsel te soek; as hulle nie versadig word nie, vertoef hulle die hele nag.
16. (59:17) Maar ék sal sing van u sterkte en elke môre jubel oor u goedertierenheid, want U was 'n rotsvesting vir my en 'n toevlug in die dag toe ek benoud was.
17. (59:18) My Sterkte, tot u eer wil ek psalmsing, want God is my rotsvesting, my genadige God.
|
|
Text source: AFR - Bible Afrikaans 1953. Copyright (c) 1953, Bible Society of South Africa. Hierdie Bybel is goedgunstiglik deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika beskikbaar gestel. Om n bydrae vir die verspreiding van bekostigbare Bybels in Suid-Afrika te maak, Klik: http://www.biblesociety.co.za/bydraes.htm. This copyright Bible has kindly been made available by the Bible Society of South Africa. To contribute towards the distribution of affordable Bibles in South Africa, click: http://www.biblesociety.co.za/contributions.htm.
|
| |
| This project is based on delivering free-of-charge the Word of the Lord in all the world by using electronic means. If you want to contact us, you can do this by writing to the following e-mail: bible-study.xyz@hotmail.com |
|
|
|
SELECT VERSION
COMPARE WITH OTHER BIBLES
|
|