1. 'n Lied. 'n Psalm van Asaf. (83:2) o God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God!
2. (83:3) Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op.
3. (83:4) Teen u volk smee hulle listig 'n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes.
4. (83:5) Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.
5. (83:6) Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle 'n verbond:
6. (83:7) die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners,
7. (83:8) Gebal en Ammon, en Amalek, Filistéa saam met die inwoners van Tirus.
8. (83:9) Ook het Assur by hulle aangesluit; hulle is 'n arm vir die kinders van Lot. Sela.
9. (83:10) Maak met hulle soos met Mídian, soos met Sísera, soos met Jabin by die spruit Kison:
10. (83:11) hulle is verdelg by Endor, hulle het mis geword vir die grond.
11. (83:12) Maak hulle, hul edeles, soos Oreb en Seëb, en al hulle vorste soos Seba en Salmúna,
12. (83:13) wat sê: Laat ons die woninge van God vir ons in besit neem!
13. (83:14) My God, maak hulle soos strooi, soos stoppels voor die wind.
14. (83:15) Soos vuur wat 'n bos verbrand, en soos die vlam wat berge aan die brand steek --
15. (83:16) vervolg hulle só met u storm en verskrik hulle met u stormwind.
16. (83:17) Oordek hulle aangesig met skande, dat hulle u Naam kan soek, o HERE!
17. (83:18) Laat hulle beskaamd staan en verskrik wees vir ewig, en laat hulle rooi van skaamte word en omkom;
18. (83:19) sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam HERE is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.
|